Standerton

Standerton information and collaboration website

Standerton Ouetehuis het Vrydag sy jaarlikse basaar aangebied en dit was weer eens ‘n groot sukses  -  te danke aan die gulhartige ondersteuning van die publiek.

Die suikersoet reuk van vars gebakte pannekoek het in die lug gehang en die tafels wat onder allerlei lekkernye gekreun het, het al wat ‘n besoeker was nader gewink.

Van die inwoners het hul eie handwerk uitgestal en verkoop en die boekwurms kon na hartelus deur die talle gebruikte boeke snuffel op soek na ‘n winskopie of twee. 

Daar was ook byderwetse juweliersware en allerhande ander basaar-items, soos gebreide items en huisversierings en natuurlik ws daar ‘n poedingtafel, pannekoek en kerrie-en-rys.   

Besighede kon vooraf  eetgoed bestel en die ouetehuis-personeel het gesukkel om by te bly met die honderde pannekoekbestellings.   Daar was regtig iets vir elke smaak.   

Die teetuin het ook groot aftrek gekry en familie en vriende kon heerlik buite sit en kuier oor ‘n heerlike koppie tee en ander verversings.   Standerton se radiostasie het regstreeks vanaf die terrein  uitgesaai en musiek verskaf en dit het ook sommer bygedra tot die feestelike atmosfeer.

Die ouetehuis-bestuur en personeel is dankbaar vir die publiek se belangstelling en ondersteuning en glo dat volgende jaar  se basaar nóg groter sal wees.  GB

Views: 3

Add a Comment

You need to be a member of Standerton to add comments!

Join Standerton

© 2012   Created by Hannes Viljoen.

Badges  |  Report an Issue  |  Terms of Service