Die 2011-matrikulante van Hoërskool Standerton het in die eindeksamen besonder goed presteer en volgens die amptelike provinsiale uitslae het Standerton die vierdeplek vir hoërskole in Mpumalanga behaal.
Hoër Tegniese Skool Witbank is Mpumalanga se toppresteerder met Hoërskool Bergvlam van Nelspruit tweede, gevolg deur Hoërskool Secunda in die derdeplek.
Hoërskool Standerton het 159 matrikulante gehad en die skool spog met ‘n 100% slaagsyfer. Dié skrander leerlinge het saam 220 onderskeidings ingebring en 66% van die matrikulante het universiteitsvrystelling ontvang. Vanjaar se top-leerlingstatus behoort aan die manne en Willem Klopper en Luke Kroon het elk agt onderskeidings behaal om daardeur die kollig te steel.
Luke gaan vanjaar informasie tegnologie-ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria (Tukkies) studeer, terwyl Willem klas vir meganiese ingenieurswese aan dieselfde universiteit gaan draf.
Mari Boer, Charné Nel, Kira Pienaar en Madie Wessels het elk sewe onderskeidings behaal, terwyl Julia Armitage, Francois du Bois en Marno Lacock elk ses onderkeidings behaal het. Joret Lombard, Elizma Roux, Reinier Smith en Steve Swanepoel het elk vyf onderskeidings ingepalm.
Die 2011-leerlinge van Hoërskool Standerton het met hul leuse van ‘Ons ís die verkskil’ reeds vroeg in die jaar bewys dat hulle kan saamstaan en hul 100% deelname aan die massalandloop is ‘n bewys daarvan.
Die leerlinge het ook op sportvlak goed gevaar en die eerste rugbyspan was die Mpumalanga-wenners sowel as die PUK- naaswenners. Hierdie span het ook tot die halfeindstryd van die Beeld-trofeereeks gevorder.
Die eerstehokkiespan was die PUK-wenners sowel as die Mpumalangawenners. LvR
You need to be a member of Standerton to add comments!
Join Standerton