Die bestuurder van ‘n tenkerwa het laat Saterdagmiddag ‘n noue ontkoming gehad toe hy deur ‘n vrgmotor van die pad gedruk is en in ‘n sloot beland het.
Die ongeluk het 6 km buite Standerton op die Standerton-Volksrustpad (R23) gebeur. Die bestuurder van die tenkerwa beweer dat ‘n vragmotorbestuurder hom wou verbysteek, maar hy het die afstand tussen hom en ‘n aankomende voertuig onderskat en moes noodgedwonge terugswenk na die linkerbaan om ‘n botsing te vermy, waarna hy die tenkerwa getref het.
Die tenkerwa se bestuurder het beheer oor sy voertuig verloor, die pad verlaat en in ‘n diep sloot tot stilstand gekom. Polisielede wat op ‘n roetinepatrollie was, was gou op die toneel. Aanvanklik is daar gevrees dat die tenkerwa se vrag, wat op hierdie tydstip uit die beskadigde tenk gelek het, sou ontplof aangesien die merkers op die tenk aangedui het dat die vrag hoogs vlambaar is, maar die bestuurder het die versekering gegee dat hy net ‘n vrag vloeibare kunsmis vervoer het.
Paramedici, wat ook intussen opgedaag het, het vasgestel dat die bestuurder, behalwe vir skok, ongedeerd was.
Die noodstortingsreaksie-afdeling van die brandweer het vroeg Sondagoggend as voorsorgmaatreël teruggekeer na die ongelukstoneel om dood seker te maak dat die tenkerwa se vrag nie skadelik vir mens, dier en die omgewing is nie.
Die R23 word as die ‘Pad van die dood’ beskryf as gevolg van die talle ongelukke wat byna daagliks op hierdie besige pad gebeur. GB

You need to be a member of Standerton to add comments!
Join Standerton