Ma’s kom in alle groottes, wydtes en lengtes maar haar dimensies maak nie regtig saak nie. Dis die grootte van haar hart wat tel. En of daar plek op haar skoot is vir ‘n kind wat sy knie nerf-af geval het.
Alle ma’s is grillerig vir spinnekoppe en slange, maar nie vir sywurms nie. Ma’s help gewoonlik om moerby- en beetblare by die bure te bedel. Ma’s hou nie van hondehare op die sitkamerbank nie, ook nie van witmuise wat ‘n ammoniakreuk afgee nie en gládnie van babakatjies wat die kantgordyne in repe skeur nie. Oor dít raak hulle ‘ballisties’.
Ma’s ruik lekker - ‘n mens sou sê hulle bad hééldag - en hulle kan nie verstaan dat seuntjies partykeer té moeg is om agter hul ore en tussen hul tone te was nie. Badtyd ontaard partykeer in ‘n oorloggie, maar as sy die storieboek nader bring vir ‘n slaaptydstorie, is daar ‘n algehele skietstilstand.
Ma’s het beursies wat altyd genoeg geld het vir ‘n pakkie tjippies, skoolskoene en vir Juffrou se verjaardaggeskenkie, maar as kinders ontydig vir ‘n speeding vra, wil hulle eers sien wat in die skoolrapport staan. Daar is glo ‘n verband tussen dié twee goed.
Alle ma’s het ekstra oë agter in hul koppe en kan deur mure sien as kinders taai koeldrankglase op die tafel los, nie nat handdoeke ophang nie nalaat om die honde kos te gee. Maar, hulle is stokblind as dit by hul kinders se tekortkominge kom.
Ma’s is ook slim. Hulle weet sommer wanneer kinders lieg, kan boekstaaf dat blomkool, spruitkool en spinasie gesond vir groeiende kinders is en as Pa huistoe kom met wange wat ekstra blosend is, weet sy sommer waar hy was - sonder om te vra.
En vanaand, wanneer Ma inkruip as die kinders al in droomland is, is haar laaste gedagtes aan haar kinders. Dis maar soos ‘n ma is. FJ
You need to be a member of Standerton to add comments!
Join Standerton